GAUTENG. – Darryn Wilken en sy meisie Tiona Megan Moodley se geldbates is gekonfiskeer nadat ‘n dringende aansoek vir ‘n bewaringsbevel op 17 Februarie deur die hooggeregshof toegestaan is. Die beweerde kinderpornografiewebtuiste wat deur Wilken bedryf is, is tot op hede as die grootste nog in Suid-Afrika bestempel.
Wilken het na bewering van ‘n huis in Midrand ‘n wêreldwye kinderpornografiewebtuiste bedryf, waar materiaal van seksuele misbruik van kinders, te koop aan kliënte gebied is.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê ‘n samewerkende ondersoek is deur die SAPD en VSA se wetstoepassingsowerhede, wat die FBI en die Geheime Diens insluit, gedoen, waarna daar vir ‘n deursoeking-en-beslagleggingslasbrief aansoek gedoen is. Die lasbrief wat bekom is, is op 17 Januarie deur die kubereenheid van die polisie uitgevoer. Wilken is onder andere op aanklagte van die vervaardiging en verspreiding van kinderporografie, die besit van dwelms en geldwassery gearresteer. Met verdere bewyse wat bymekaargemaak is, is Moodley ook op aanklagte van die vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie op ‘n webtuiste, asook geldwassery gearresteer. Moodley se eiendom is ook gekonfiskeer.
Die bates waarvoor die batebeslagleggingseenheid van die nasionale vervolgingsgesag vir bewaring aansoek gedoen het, sluit kontant van R647 300, wat op die misdaadtoneel gekonfiskeer is, asook kontant in ’n bevrore bankrekening, Wilken se luuksevoertuig met die registrasienommer KIDZ NA GP en elektroniese toerusting wat aan die beskuldigdes behoort, in.
Wilken en Moodley het in die Randburg-streekhof vir borg aansoek gedoen, maar dit is op 14 Februarie suksesvol deur die NVG teengestaan.
Die ondersoek duur plaaslik en internasionaal voort.





