GAUTENG. – Darryn Wilken (35) en Tiona Moodley (25), wat tereg staan op aanklagte van die verspreiding van kinderpornografie, se borgaansoek is tot 7 Februarie in die Randburg-landdroshof uitgestel.
Phindi Mjonondwane, woordvoerder vir die NVG, sê soos voorheen deur Nuusflits berig is, Wilken is op 17 Januarie tydens ‘n polisie-operasie by sy huis in Midrand gearresteer. Moodley, Wilken se meisie, wat ook na bewering aan die misdade gekoppel is, is op 25 Januarie in Houghton in hegtenis geneem. Beide staan op veelvuldige aanklagte – besit, vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie, oortreding van die dwelmhandelwet, geldwassery, verkryging en besit van opbrengs uit onwettige aktiwiteite, besit van gesteelde eiendom en bedrog – tereg. Internasionale wetstoepassingsowerhede het inligting met die SAPD gedeel wat tot die arrestasies gelei het.
Mjonondwane sê die staat beweer die beskuldigdes is in besit van ‘n onbekende bedrag geld aangetref, wat glo die opbrengs van onwettighede is. Ook dat ‘n ondersoek deur SECI onthul het die verdagte was na bewering die gasheer en internasionale verspreider van kinderpornografie vir finansiële gewin. Tydens die operasie het die polisie op alle elektroniese toestelle, asook meer as 10 m. foto’s en video’s van kinderpornografie, beslag gelê.
Nadat daar op Moodley se elektroniese toestelle toegeslaan is, is bevind daar is na bewering kort nadat Wilken gearresteer is ‘n poging deur haar aangewend om van bewysstukke ontslae te raak.
Senior staatsadvokaat Colleen Ryan het borg teengestaan, waarna die verdediging uitstel gevra het om ‘n antwoord op die ondersoekbeampte se beëdigde verklaring voor te berei.