Brekende Nuus
Misdaad

Britse ‘voortvlugtige’ pleit skuldig op sommige aanklagte

Foto: Ndodana Mkhanyisi Tshuma

GAUTENG. – Ndodana Mkhanyisi Tshuma (46) het ingevolge ’n pleit-en-vonnisooreenkoms met die nasionale vervolgingsgesag skuldig gepleit op aanklagte wat verband hou met die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, asook ’n oortreding van die immigrasiewet. Tshuma word in die VK gesoek in verband met drie aanklagte van moord op Nothabo Zandile Tshuma, sy vrou, en Natyalie en Nala, hul twee kinders.

Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder, sê Tshuma het in twee afsonderlike sake in die Johannesburgse landdroshof verskyn. Die eerste saak hou verband met uitleweringsverrigtinge wat ingestel is nadat die VK ’n versoek om sy uitlewering gerig het. Die tweede saak hou verband met aanklagte wat voortspruit uit sy beweerde onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Tshuma het ingevolge die pleitooreenkoms op vier aanklagte skuldig gepleit. Dit sluit in die onwettige besit van ’n verbode vuurwapen waarvan die reeksnommer verwyder is, die onwettige besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, die onwettige besit van ammunisie en ’n oortreding van die Immigrasiewet. Die hof het die Artikel 105A-pleit-en-vonnisverrigtinge in die vuurwapensaak gedeeltelik aangehoor voordat die saak uitgestel is omdat die staat eers die nodige magtiging vir die pleit-en-vonnisooreenkoms moet bekom. Die uitleweringsverrigtinge is intussen vir verhoor tot 10 September uitgestel.