GAUTENG. – Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) sê die saak teen Vusimuzi Matlala, ook bekend as “Cat” Matlala, en medebeskuldigdes sal op 20 Julie in die Johannesburg-hooggeregshof begin. Matlala, Musa Kekana, Tiego Floyd Mabusela, Tsakani Matlala en Zandile Nzama staan op 25 aanklagte, insluitend 11 van poging tot moord, tereg.
Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder, sê Musa Kekana se regsverteenwoordiging is nou bevestig en dat die verdediging aangedui het dat hulle finansieel gereed is om met die saak voort te gaan. Dit hou verband met drie beweerde skietvoorvalle tussen Augustus 2022 en Januarie 2024. Volgens die staat is die skietvoorvalle glo beplan en sou dit deel wees van breër kriminele bedrywighede, wat ook geldwassery en die gebruik van ’n vervalste faktuur insluit om fondse en die oorsprong daarvan vir die hof te verdoesel. Beskuldigde 1, 2 en 3 is steeds in aanhouding, terwyl die ander twee se borg verleng is.
Die hof het gelas dat die kantoor van die nasionale direkteur van openbare vervolgings teen 11 Julie moet besluit oor vertoë wat deur een van die beskuldigdes ingedien is. Die NVG sê hy is gereed om voort te gaan met die verhoor en glo die saak kan nou sonder verdere vertraging aangehoor word.





