GAUTENG. – Die saak teen vier beweerde opstokers van die Julie 2021-onluste se saak is deur die Roodepoort-landdroshof uitgestel om voorverhoorreëlings af te handel. Bogadi Maphisa (55), Jacquiline Busisiwe Skhosana (48), Bekuyise Thilothemba Cebekulu (58) en Nkateko Jimmy Sibiya (44) wou glo hê die staat moet voormalige president Jacob Zuma uit die tronk vrylaat.
Phindi Mjonondwane, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die beskuldigdes word van sameswering tot openbare geweld en twee gevalle van aanhitsing tot openbare geweld aangekla nadat hulle hulle vrywillig aan die owerhede oorgegee het. Volgens die aanklag het die verdagtes na bewering tussen 8 en 15 Julie 2021 in Gauteng saamgesweer en WhatsApp-groepe gebruik om openbare geweld aan te hits en aktiwiteite soos padblokkades, die verbrand van infrastruktuur, die vernietiging van besighede en voorsieningskettings, asook ander vorme van geweld te bevorder. Hulle word ook aangekla dat hulle boodskappe, video’s, emoji’s en stemboodskappe versprei het om hierdie dade aan te moedig.
Elke beskuldigde is op borg van R1 500 vrygelaat. Die saak is vir voorvehoorverrigtinge tot 16 Januarie 2026 uitgestel. Die nasionale vervolgingsgesag herbevestig sy verbintenis om die reg te handhaaf en individue wat openbare orde en veiligheid ondermyn, te vervolg.





