GAUTENG. – ’n Man (46) is vanoggend (Maandag) met ‘n noodlottige skietwond in die bors op ‘n kleinhoewe in Kameeldrift aangetref. ‘n Moordondersoek is geopen.
Kapt. Johan van Dyk, distrikspolisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits Kameeldrift-polisiebeamptes is omstreeks 03:00 na ‘n moontlike huisroof ontbied. Met hulle aankoms op die toneel is die slagoffer in die huis aangetref. Voorlopige ondersoek dui aan dat verdagtes ’n skuifdeur oopgebreek het om toegang tot die woning te verkry. Verskeie skote is tydens die voorval afgevuur. Daar is tekens dat die slagoffers teen die aanvallers teruggeveg het.
Die oorledene se gesin was ten tyde van die voorval in die sitkamer aan die slaap en is deur die skote en geworstel wakker gemaak.
Van Dyk bevestig misdaadtoneeldeskundiges is tans besig om die aktiewe misdaadtoneel vir leidrade te fynkam.
Mossie Mostert (84) is op 24 Julie op sy hoewe in dieselfde gebied vermoor. Lees meer hier onder.





