GAUTENG. – Die Pretoria-hooggeregshof het die Pretoria-Noord-landdroshof se besluit, om geen borg aan sers. Fannie Ezekiel Nkosi (43) toe te staan nie, gehandhaaf.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê Nkosi staan tereg op verskeie ernstige aanklagte, insluitend die onwettige besit van springstof, die versuim om wapens en ammunisie te beveilig, die dwarsboming van die gereg, asook diefstal en geldwassery. Volgens die staat is die saak deel van ’n ondersoek deur ’n polisietaakspan wat inligting opgevolg het wat tot ’n klopjag by Nkosi se huis in Pretoria-Noord gelei het. Vuurwapens, ammunisie, polisiedokumente en groot bedrae geld is daar gevind.
Die hof het bevind dat die landdros korrek opgetree het deur borg te weier, gegewe die erns van die klagte en Nkosi se posisie in die polisie.
Die saak is tot 6 Julie uitgestel.





