Brekende Nuus
Nuus

AfriForum vra hofdatums vir Mbalula en Malema

Foto: AfriForum

GAUTENG. – AfriForum se privaatvervolgingseenheid het adv. Andy Mothibi gevra wanneer Fikile Mbalula en Julius Malema se vertoë afgehandel sal wees en hulle weer gedagvaar sal word om in die hof te verskyn.

Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die ANC se sekretaris-generaal en die EFF-leier is aanvanklik gedagvaar om in die Johannesburgse landdroshof op aanklagte van crimen injuria te verskyn. Die aanklagte spruit volgens die eenheid uit uitlatings waarin hulle Jaco Pieterse, voormalige skoolhoof van Bergview College, na bewering valslik as ’n kinderverkragter bestempel het. Volgens Bateman is die dagvaardings teruggehou nadat Mbalula en Malema vertoë aan Mothibi, die nasionale direkteur van openbare vervolgings, gerig het.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die eenheid wat Pieterse verteenwoordig, sê die onsekerheid oor die vervolging duur voort en benadeel sy kliënt. Volgens AfriForum het adv. Andrew Chauke, die Gautengse direkteur van openbare vervolgings, reeds Mbalula se vertoë verwerp. Chauke het Mbalula se regspan meegedeel dat daar op die oog af genoegsame gronde vir vervolging is en dat ’n hof die saak moet beslis. Die eenheid het Mothibi gevra om dringend te antwoord en die sake sonder verdere vertraging op die hofrol te plaas.

Druk hier om meer te lees.