GAUTENG. – Senzo Mchunu, voormalige polisieminister, het aangedui dat hy bereid is om sy verantwoordelikhede teenoor die ANC te staak, nadat president Cyril Ramaphosa die instel van ’n ondersoekkommissie aangekondig het. Die ANC het die besluit in ‘n verklaring bevestig.
Volgens die verklaring erken die ANC Mchunu se voortgesette samewerking met die Madlanga-kommissie en die ANC se Integriteitskomitee, in ooreenstemming met die party se waardes van aanspreeklikheid, dissipline en respek vir behoorlike prosesse.
Die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) het die omstandighede van Mchunu se saak bespreek en ooreenkomstig die bepalings van die ANC-grondwet en gevestigde beleid besluit dat hy die organisasie se take op ’n beperkte basis sal voortsit, uitgesonderd dié wat met sy kabinetsmandaat verband hou. Die ANC het verder aangedui dat die NUK die situasie sal monitor en die bespreking sal hervat indien nuwe ontwikkelings dit noodsaak.
“As ’n beweging wat op vernuwing en etiese leierskap gebaseer is, herhaal die ANC dat lede wat krimineel aangekla word, vrywillig uit hul verantwoordelikhede tree totdat die sake afgehandel is. Hierdie beleid weerspieël die organisasie se verbintenis tot integriteit, billikheid en aanspreeklikheid,” het Mahlengi Bhengu, die nasionale woordvoerder van die ANC, gesê.






