GAUTENG. – Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het die bedrog-en-korrupsiesaak teen luitenant-generaal Dumisani Khumalo en sewe ander senior polisiebeamptes teruggetrek.
Die NVG se woordvoerder, Kaizer Kganyago, sê die besluit volg nadat adv. Andy Mothibi, die nasionale direkteur van openbare vervolgings, ingevolge die Grondwet en die NVG-wet ingegryp het. Die beskuldigdes is Khumalo, die misdaadintelligensiehoof, asook generaals-majoor Philani Lushaba, Nosipho Precious Madondo, Josias Lekalakala, Zwelithini Gabela en brigadiers Phindile Ncube en Dineo Mokwele.
Mothibi het onder meer bewyse uit die ondersoek, vertoë deur die beskuldigdes se regsverteenwoordigers en getuienis voor die Madlanga-kommissie oorweeg. Volgens die NVG het die getuienis op ernstige onreëlmatighede in die hantering van die saak gedui.
Die NVG beklemtoon dat die Madlanga-kommissie nog geen bevindings oor die getuienis gemaak het nie. Die NVG het ook dissiplinêre prosesse begin teen drie geskorsde IDAC-amptenare wat voor die kommissie geïmpliseer is oor beweerde onbehoorlike optrede wat met die saak verband hou. Volgens die NVG word verdere hervormings van die ondersoekdirektoraat teen korrupsie (IDAC) ook ingestel, insluitend leefstyloudits en ’n oudit van werknemers se vaardighede en kwalifikasies. Die proses om ’n waarnemende ondersoekdirekteur aan te stel, is steeds aan die gang.
Die polisie verwelkom die besluit om die klagtes teen die senior beamptes terug te trek. Brig. Athlenda Mathe sê die besluit sal die beamptes in staat stel om weer ten volle op hul mandaat te fokus, insluitend die bekamping van georganiseerde misdaad.





