MPUMALANGA. – Bates met ’n geraamde waarde van R99 miljoen is ingevolge ’n voorlopige bewaringsbevel beperk in ’n ondersoek na ’n beweerde georganiseerde misdaadsindikaat wat met afpersing verbind word. Die bates word verbind met Joe Sibanyoni en ander wat na bewering by georganiseerde misdaad betrokke is. Dit sluit eiendomme in Centurion en Pretoria, luuksevoertuie en beleggings in.
Kaizer Kganyago, NVG- nasionale woordvoerder, sê die batebeslaglegging in samewerking met die NVG se eenheid vir georganiseerde misdaad, en die polisie, het die bevel bekom. Die Middelburg-hooggeregshof het die voorlopige bevel op 28 September ingevolge artikel 26 van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad van 1998 toegestaan. Bates sluit eiendomme in eksklusiewe gholflandgoedere en ander woongebiede in Centurion en Pretoria in, asook luuksevoertuie van handelsmerke soos Ferrari, Porsche, Lexus, Mercedes-Benz en BMW. Die betrokke partye moet ook verskeie bankrekeninge en beleggings aan ’n kurator wat deur die hof aangestel is, oorhandig.
Die bevel is daarop gemik om te voorkom dat bates wat na bewering uit misdaad verkry is, beskikbaar bly vir die betrokkenes. Dit is ’n voorlopige bevel en beteken nie dat die beskuldigdes skuldig bevind is nie.