GAUTENG. – Ayanda Dludla (23), bestuurder van ‘n minibustaxi wat leerlinge vervoer het, is borgtog van R3 000 deur die Vanderbijlpark-landdroshof toegestaan. Hy word deur 14 aanklagte van moord in die gesig gestaar.
Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê Dludla staan ook tereg op drie aanklagte van poging tot moord en aanklagte wat verband hou met die bestuur van ’n voertuig sonder ’n sertifikaat van geskiktheid, sonder ’n professionele bestuurspermit (PrDP) en ’n ongelisensieerde voertuig. Die ongeluk het op 19 Januarie op die R553 Golden Highway plaasgevind. Dludla het 17 leerlinge vervoer toe die minibustaxi en ’n aankomende vragmotor reg van voor teen mekaar gebots het. 14 leerlinge is in die botsing dood, terwyl drie ander beseer is.
Die staat het Dludla se borgtog teengestaan, maar die hof het bevind dat dit in die belang van geregtigheid is dat hy op borgtog vrygelaat word. As deel van sy borgtogvoorwaardes moet Dludla elke Vrydag by die Vanderbijlpark-polisiestasie aanmeld. Hy mag ook nie enige voertuig bestuur totdat die saak afgehandel is nie en mag nie met staatsgetuies inmeng nie. Hy moet by sy ma se woning bly, tensy die ondersoekbeampte anders magtig. Indien hy ’n verskoning aan die families van die oorlede leerlinge wil rig, mag dit slegs deur die ondersoekbeampte geskied.
Die saak is vir 9 tot 17 November 2026 vir verhoor uitgestel.