Brekende Nuus
Nuus

Man kry 15 j. vir ontvoering van 2 tieners uit Brits

Foto: IOL
Foto: IOL

NOORDWES. – Boitumelo Bradly Bogatsu (45) is vir die ontvoering van twee tieners uit Brits, en die afpersing van hul ouers, deur die Pretoria-hooggeregshof tot 15 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis.

Lumka Mahanjana, NVG-streekwoordvoerder, sê Bogatsu is tot 15 jaar gevangenisstraf op elk van twee aanklagte van ontvoering, 10 jaar op elk van twee aanklagte van afpersing en vyf jaar vir die onwettige besit van ’n vuurwapen gevonnis. Die vonnisse loop gelyktydig, wat ’n effektiewe vonnis van 15 jaar beteken. 

Bogatsu en sy medebeskuldigdes het volgens die staat die twee tieners, onderskeidelik 17 en 18 jaar oud, op 6 Maart 2024 naby Central Combined School in Brits ontvoer. Hulle is na ’n huis in Klipgat geneem en daar aangehou. Bogatsu het daarna die 17-jarige meisie se ouers gebel en R50 miljoen geëis, terwyl hy R60 miljoen van die 18-jarige se ouers geëis het. Hy het gedreig dat die tieners vermoor of uit die land verhandel sou word indien die geld nie betaal word nie. Albei families het die ontvoering dieselfde dag by die polisie aangemeld. 

Ná ’n ondersoek is die tieners 20 dae later op 26 Maart 2024 gevind en met hul families herenig. Bogatsu en sy medebeskuldigdes is in hegtenis geneem en het sedertdien in aanhouding gebly nadat die NVG borgtog teengestaan het.

Bogatsu het in die hof skuld beken op die aanklagte en erken dat hy die tieners ontvoer en hul ouers afgepers het. Sy saak is van dié van sy agt medebeskuldigdes geskei. Hul verhoor is vir 26 April tot 14 Mei 2027 in die Pretoriase Hooggeregshof geskeduleer.